Wat is Depressie?

IMG_2725Om ‘n diagnose van Depressie te maak is ‘n ingewikkelde proses en die diagnose moet slegs deur ‘n gekwalifiseerde professionele persoon (bv. sielkundige, psigiater of mediese dokter) gemaak word. Die onderstaande verduideliking van Depressie is baie eenvoudig en het ten doel om die verstaan van depressie ietwat te verbeter. Indien u heelwat van hierdie simptome ervaar, kontak assbelief een van bogenoemde professionele persone.

Depressie kan vir enigiemand, met enige ouderdom of enige kultuur affekteer, maar vroeë volwassenheid is die mees algemene tyd van aanvang. Dit is belangrik om te onthou dat die simptome van Depressie op verskillende maniere presenteer in kinders, adolessente en volwassenes.

Die simptome sluit die volgende in: die ervaring van ‘n aanhoudende somber bui vir meeste van die tyd; ‘n beduidende  verlies van belangstelling of plesierervaring in meeste of alle aktiwiteite wat voorheen genotvol was; beduidende veranderings in liggaamsgewig of eetlus (wat nie as gevolg van dieet is nie); onreëlmatige slaappatrone (kan nie aan die slaap raak of aan die slaap bly nie of dat jy veel meer as gewoonlik moet slaap); ‘n duidelike vermeerdering of vermindering van fisiese aktiwiteit (rusteloosheid of traagheid); uitputting of deurlopende gebrek aan energie; gevoelens van waardeloosheid of ongegronde skuld; probleme om te kan dink, konsentreer of besluite neem; aanhoudende en gereёlde gedagtes aan die dood, selfmoordgedagtes, planne om selfmoord te pleeg of ‘n selfmoord poging.

Iemand met Depressie sou meeste van hierdie simptome daagliks of amper daagliks ervaar vir ‘n minimum van twee weke. Hierdie simptome is beduidend genoeg om die individu se funksionering in te perk (bv. sosiaal).

Die simptome van depressie kan moontlik op ‘n ander siekte dui of ‘n normale reaksie vir sekere omstandighede wees. Daarom is dit ontsettend belangrik dat ander geestesongesteldheid (bv. bipolêre gemoedsteuring of skisofrenie) eers uitgeskakel word voordat die diagnose van Depressie gemaak word. Om ‘n diagnose van Depressie te regverdig, kan hierdie simptome nie ‘n direkte resultaat van ‘n algemene mediese toestand of die effekte van ‘n ander middel (medikasie of dwelms) wees nie. Na die afsterwe van ‘n geliefde kan ‘n individu dalk simptome van Depressie ervaar, sonder dat hulle kliniese Depressie het. Daarom, indien iemand ‘n groot verlies gely het, moet hulle aan verdere kriteria voldoen om ‘n diagnose van Depressie te regverdig.

Nadat ‘n diagnose van Major depressiewe versteuring (MDV) gemaak is, kan die behandeling psigoterapie, anti-depressante (medikasie) en lewenstylveranderings behels. Met die regte hulp kan Depressie oorkom word. Vir enkele mense is dit egter ‘n chroniese (deurlopende) versteuring wat hulle kan leer om beter te bestuur.

Tags: , ,

About thatpsychologist

Clinical Psychologist in private practice in George and Mossel-Bay Kliniese Sielkundige in privaat praktyk op George en Mosselbaai.

4 responses to “Wat is Depressie?”

  1. teresa strydom says :

    Het dringend hulp nodig… Wil net n einde aan my lewe maak…. Lewe maak nie meer vir my sin nie.. Is al jare gediagnoseer met bipolere depressie… Sukkel so om medikasie by staatshospitaal te kry… Dus neem ek nie my meds gereeld nie.. So moeg om te spook en spartel met die lewe.. Al oplossing vir my is om my eie lewe te neem… Dit is al wat ek aan dink dag en nag.. Kan nie meer die angs en rusteloosheid hanteer nie.. En kan ook nie my man se skielike dood verwerk nie.. Sal nou amper 2 jaar wees…

    • thatpsychologist says :

      Beste Teresa,
      Om met bipolêre depressie te stoei, veral as finansies ‘n probleem is, is regtig ‘n uitdaging. Dit is egter baie belangrik 9en ek kry die idee jy besef dit) dat jy jou medikasie soos klokslag gebruik. Die dokter wat jou behandel kan goedkoop opsies voorstel en die hospitaal of kliniek moet jou help om seker te maak jy kry dit betyds en gereeld.
      Soms voel mense in jou situasie dat dit nie die moeite werd is om aan te gaan nie. Soek egter selfs net een ding waaraan jy kan vashou, of dit ‘n familielid, troeteldier, vriendin of selfs iets kleins soos ‘n potplant is waarvoor jy betekenis het. Gaan praat ook met iemand oor jou situasie.
      Jou man se dood is erg. Skryf vir hom briewe om jou gevoelens te ontlaai. Sterkte

  2. Marius says :

    Ek begin die brief net om tebegin . Sal later of nooit verder tik . Dis moeilik

Leave a reply to Marius Cancel reply