PASSIEF
Passiwiteit kan inkruip by enige aspek in ‘n huwelik, van interpersoonlike interaksie tot op beroepsgebied. Dit mag gebeur dat ‘n persoon slegs op een gebied passief begin raak, maar meestal begin hierdie handeswyse deursypel na alle aspekte van die lewe. ‘n Maat kan minder kliënte werf, probleemoplossende aksie uitstel, ophou liefde wys, heeldag net voor die televisie lê, huis- of tuinwerk agterweë laat of dalk op seksuele gebied skielik as koud oorkom.
Dit is interessant dat die woord “passief” ‘n antoniem is van die woord waarmee dit verband hou, naamlik “passie”. Dit is dus nie vreemd dat die eggenoot wat passief raak, dikwels sy of haar passie vir die lewe of ‘n deel van die lewe verloor het nie. Moontlik het die inset van ‘n klomp energie en moeite op niks uitgeloop nie, dalk is die eer wat ‘n eggenoot toekom aan iemand anders toegedig. Selfs uitbrandingsindroom of depressie kan deur passiwiteit voorafgegaan word as een van die eerste simptome. In ‘n verhouding kan hierdie situasie die gade ook passief maak, maar meer waarskynlik sal woede ‘n tipiese reaksie wees – wat natuurlik die passiwiteit kan intensifiseer. Sommige eggenote sal take oorvat en ‘n dubbele lading dra wat ook die situasie verder kan versleg. Indien passiwiteit by ‘n maat intree is dit van kardinale belang dat gekommunikeer moet word ten spyte van spraakstiltes. Die diepste behoefte bestaan tog om iemand te kry wat sonder voorbehoud luister en verstaan. Wanneer so ‘n gesprek aangevoer word is geduld die wagwoord. Geen vinnige oplossings, verwyte of sarkasme nie! Probeer eerder die onderliggende gevoel peil en reflekteer dit – noem dit by die naam.
Eers wanneer die emosionele aspek uitgelig is, kan die daaropvolgende gesprekke geleidelik begin fokus op wat elkeen in die verhouding kan doen om na oplossings te werk. En in hierdie geval is bykans enige aksie beter as geen aksie, selfs om ‘n ent te gaan stap is al onderbewuste suggestie van die moontlike aksie in ander situasies.
‘n Tyd van passief wees het natuurlik ook sy voordele. Dit laat ‘n mens tot stilstand kom en skep die geleentheid om met ander oë na ‘n probleem te kyk. Dit fokus energie op slegs een
bepaalde aspek en dit het die potensiaal om ‘n egpaar weer nader aan mekaar te laat beweeg. Die ruimte vir ondersteuning en onderskraging kan uiteindelik lei tot ‘n nouer band – en meer passie.
Verwysing: van der Walt, T. (2003). Passief. In Maartens, M. (Ed.). Die Groot Huweliksboek. (pp. 444-445). Pretoria: Lapa UItgewers.