SELFSUGTIG
Selfsugtigheid kan voorkom op seksuele, finansiële, emosionele gebied en bykans enige ander aspek van ‘n getroude lewe kan daardeur beїnvloed word. (Die ergste is waarskynlik wanneer ‘n persoon hom- of haarself weerhou uit selfsug.)
Jy moet jou sente omdraai en jou kruideniersware rek maar daar is altyd geld vir sy jagsafari’s of sigarette. Of jy probeer water- en telefoonkoste spaar maar sy koop net heeldag klere en luukse artikels.
Soms begin hierdie selfsugtigheid nadat ‘n persoon iets kosbaars of iemand na aan hulself verloor het, en nou dinge wil vasklou en toe-eien, in ‘n poging om beheer uit te oefen oor wat darem nog oor is. Vir ander is dit ‘n jarelange stryd wat telkens sy kop uitsteek soos by party enigste kinders, “pappa se oogappel” of “mamma se seuntjie” wat verwen is of was. Dit kan ook ‘n gewoonte wees wat geleidelik ingesluip het en nou skielik oral waargeneem word.
Selfsug in ‘n huwelik laat altyd twee verloorders: die een word weerhou van sy regmatige deel en die ander ervaar al meer konflik en / of verwerping. ‘n Wig word dus in die verhouding ingedryf en die twee wat een geword het, skeur geleidelik weer uitmekaar na twee apartes.
Dit is belangrik om die selfsugtige op ‘n volwasse manier te wys op die vele terreine en maniere hoe hierdie selfsug presenteer en ‘n beroep kan gedoen word op hierdie eenwees wat voor God belowe was op die troudag. Baie mense wat selfsugtig raak, doen dit onwetend (op ‘n bewuste vlak) en staan verstom en beskaamd as hulle daarvan bewus gemaak word. Party reageer natuurlik met selfverontskuldigings en rasionaliserings, maar ook dit moet aangespreek word in liefdevolle gesprek. Die verhouding kan uiteindelik versterk word deurdat gefokus word op die kameradie en “ons-wees”, eerder as polarisasie.
Verwysing: van der Walt, T. (2003). Selfsugtig. In Maartens, M. (Ed.). Die Groot Huweliksboek. (pp. 442-443). Pretoria: Lapa UItgewers.