Dissipline: Kinders se Wangedrag en Ouers se Dissipline

Inleiding

Elke ouer moet onthou dat kinders ongelooflik kan herstel en terugbons na teleurstellings.  Hulle moet ook besef dat niemand perfek is nie en dat ouers foute maak.  Solank soos wat ouers meeste van die tyd sensitief is teenoor die kind of tiener, is dit aanvaarbaar as daar nou en dan soms misverstande, woede of frustrasies is.  Dit moet net nie die stapelvoedsel wees nie.  Alle ouers weet hulle oortree soms en reageer met woede.  Die prosedure is dan om terug te staan, af te koel en dit te bespreek met ‘n eggenoot, vriend of vertrouling om perspektief te kry.  Daarna is dit nodig om die kind om verskoning te vra en aan te gaan met die lewe.

  1. Waarom sal kinders hulle wangedra?

Kinders wangedra hulself wanneer hulle behoeftes nie bevredig word nie.  Die vier basiese behoeftes wat kinders het, is om geliefd te voel, om selfversekerd te voel, om belangrik en waardevol te voel en om betrokke te wees by interessante, opbouende aktiwiteite.  Indien enige van hierdie behoeftes nie bevredig word nie, sal kinders plaasvervangers soek daarvoor.

  • Geliefdheid

Wanneer kinders nie geliefd voel nie, voel hulle hartseer en alleen.  Hulle sal hulle dan wangedra vir aandag – en onthou, negatiewe aandag is beter as geen aandag!  Wanneer hulle gestraf word is dit vir hulle ‘n teken dat hulle darem belangrik genoeg is om darem ‘n sekere tipe aandag te ontvang.  Daarom is dit belangrik om te weet dat tieners elke dag ‘n tydjie nodig het met ma en pa, dat hulle nie te lank alleen gelos moet word nie.  Daar moet gereeld met hulle gespeel, gepraat of saam met hulle gewerk word.  Daar moet na hulle geluister word en ouers het nodig om geïnteresseerd te wees in hul kinders se wêreld, soos byvoorbeeld hul vriende en aktiwiteite.

  • Selfversekering en Selfvertroue

Wanneer kinders nie selversekerd voel nie en ‘n tekort aan selfvertroue beleef, voel hulle swak, angstig en minderwaardig.  Hulle wangedra hulself dan om mag en beheer te probeer bekom.  Hulle raak hardkoppig en beherend en kan begin om te boelie en soos tiranne op te tree.  Natuurlik lei dit tot ‘n baie destruktiewe spiraal want niemand kan goed voel oor homself as hy boelie nie.  Soos wat die boeliegedrag vererger, vererger die minderwaardigheid.  Party kinders kom dan op ‘n punt waar hulle heeltemal opgee, skaam raak en onttrek van alles en almal.  Soms word die hardkoppige fase gesystap en is die onttrekking ‘n direkte gevolg wanneer hulle nie selfversekerd voel nie.  Ouers kan in gedagte hou dat elke prestasie van die kind, of dit nou is wanneer hulle leer om hulle skoene vas te maak of wanneer hulle nat handdoeke optel, versterk moet word.  Dit is dus belangrik om hulle aan te moedig en om hulle take te gee wat hulle kan voltooi.  Huislike take en die aanleer van ‘n sport is maar enkele voorbeelde.  Verder is dit veral belangrik dat kinders nie met ander kinders vergelyk word nie en ook nie gekritiseer moet word nie.  Aanmoediging is nie dieselfde as kritiek lewer nie.

  • Belangrik en Waardevol

Wanneer kinders nie belangrik of waardevol voel nie, voel hulle waardeloos en skuldig en raak hulle depressief.  Dan sal hulle wangedrag manifesteer as ‘n poging om òf perfek òf die teenoorgestelde te probeer wees.  Hulle raak dus “pleasers” wat almal tevrede wil stel en natuurlik maak dit nie saak hóé goed hulle vaar nie, hulle sal nooit goed genoeg voel nie.  Of hulle probeer optree soos wat hulle dink die ouers van hulle “verwag”.  So hulle begin te druip, te rebelleer of ongehoorsaam te raak.  Dikwels gaan die ‘perfekwees’ die ‘rebelwees’ vooraf.  Dit gebeur wanneer hulle “pleasing” nie positiewe resultate vanaf ouerkant ontlok nie.  Sulke kinders moet leer om die lewe werklik te geniet en ouers moet natuurlik so ‘n voorbeeld stel.  Daar moet aandagdig na hulle geluister word en hulle opinies en gevoelens moet ernstig opgeneem word.  Dit is belangrik om respekvol met hierdie kinders te praat, en wanneer daar gedissiplineer word, moet dit ferm wees, maar steeds liefderyk.

  • Interessante en opbouende aktiwiteite

Wanneer kinders nie interessante / opbouende aktiwiteite het om aan deel te neem nie, raak hulle verveeld.  Hulle begin dan om hulle te wangedra deur aan destruktiewe aktiwiteite op te neem. Laasgenoemde bring interessantheid en opwinding terug in hul lewens.

Wanneer kinders se wangedrag om opwinding te skep nie meer werk nie, soek hulle wraak en wil die ouer straf vir die ouer se optrede.  Die kind sal sê: “as die ouer dink ek is sleg, dan sal ek hom wys hoe sleg ek kán wees.  Hulle vernietig hulself dus om ouers terug te kry en as dit nie werk nie, dan blok hulle alles net eenvoudig uit.  Hulle hou dan op om te voel, hulle hou op om in verhoudings te staan en hulle gee boedel oor.  Dit is dan wannneer kinders sielkundiges móét sien.

Dissipline

Ouers moet in gedagtes hou dat kinders verskil.  Elkeen is uniek met sy eie temperament en jy kan nie twee kinders dieselfde behandel nie.  Verder kan ouers weet dat dit normaal is vir kinders om hulle te wangedra en om ook te onthou dat alle kinders ‘n selfsugtige neiging het.

Met straf is die doel om vining reg te laat geskied of om wraak te neem.  Die motivering is gewoonlik woede en wat ontlok word by die kind is vrees, skuld en woede.  Al drie laasgenoemde is baie swak langtermyn motiveerders.  (Gewoonlik is die ouer in ‘n staande houding tydens straf uitdeel).  Die doel van dissipline daarenteen is om volwassenheid te oefen tot die kind se beste langtermyn belang.  Die motivering is altyd liefde en dit ontlok respek, die vermoё tot empatie en die aanleer van die gevolge van keuses.  (Dissipline word dikwels geassosieer met die ouer wat in ‘n sittende houding is.)  Dissipline het dus ten doel om die lewe voorspelbaar te maak met betrekking tot die gevolge van keuses.

                Dissipline Tegnieke

  1. Moenie slegte gedrag beloon nie.

Hiermee word bedoel dat wanneer kinders op die verkeerde manier optree, dit nie verder versterk moet word nie.  Indien ‘n ouer dus heeltyd kinders herinner om ‘n sekere taak te doen, dan leer hulle nie die kinders om daardie taak te doen nie, hulle leer die kinders eintlik om uit te stel.  Byvoorbeeld: as ‘n kind die melk buite laat staan, moet die ouer dit nie in die yskas sit nie, laat die melk suur word en sê die volgende oggend dat daar ongelukkig nie melk is vir ontbyt nie want “so-en-so” het dit buite gelos en nou is dit suur; of koop nuwe melk as dit suur is, maar trek die bedrag van die kind se sakgeld af.  Om ‘n ‘tantrum’ te stop, ignoreer dit net.  Moenie ingee nie, want dit beloon net die ‘tantrum’.

  1. Beloon goeie gedrag.

Belonings kan op twee maniere geskied en beide is belangrik: sosiale en nie-sosiale beloning.  Voorbeelde van sosiale beloning is ‘n drukkie om dankie te sê, om aan te moedig en om geluk te wens.  Nie-sosiale beloning is om die kind se gunstelling kos te maak, die tekkies te gaan koop wat hy nog altyd wou gehad het, om vir hom ‘n halfuur langer te laat TV kyk en om maats oor te nooi.  Belonings moet onmiddelik geskied en as die take groot is, moet dit liewer opgedeel word in kleiner take wat telkens beloon kan word.  Ouers kan gerus probeer om eerder hul kinders uit te vang wanneer hulle soet is, as wanneer hulle stout is.  Dit is belangrik om te onthou dat die kinders jou nie moet leer nie.  As jy agterkom jy gil al harder of jy smeek al meer, dan is hulle besig om jou te leer gil en smeek.

  1. Wees die regte voorbeeld.

Kinders sal meestal doen wat jy doen, nie wat jy vir hulle sê om te doen nie.  Jy kan nie verwag dat ‘n kind sy bed moet opmaak as sy ouers nie hulle bed opmaak nie.  Jy kan ook nie van hulle verwag om hul borde in die kombuis te gaan neersit as die ouers dit nie ook doen nie.

  1. Natuurlike gevolge.

‘n Goeie voorbeeld van natuurlike gevolge is die seun wat sy erfporsie wou hê en die huis verlaat.  Die pa het geweet die natuur sal hom leer: as jy verkwis gaan jy honger ly.  Dit is gewoonlik makliker vir pa’s om hierdie beginsel toe te pas as vir ma’s.  Natuurlike gevolge beteken daar is reeds ingeboude gevolge vir wangedrag.  Dit is belangrik om hier te onthou dat dit slegs toegepas kan word as daar nie aan die kind ernstige of langtermyn skade berokken kan word nie.  Hierdie tegniek skakel magstryde uit en laat kinders die gevolge van hulle eie besluite dra.  Dit is ontoepaslik vir byvoorbeeld kamers wat deurmekaar is of ‘n broer wat ‘n suster boelie.  Dit werk egter baie goed met kinders wat hulle sakgeld oorspandeer, te rof is met hulle eie besittings of nie goed genoeg kyk na hulle liggaam nie: as ‘n kind vergeet om sy taak skool toe te neem, moet hy raas kry by die onderwyser of geen punte kry nie; as hy nie betyds is vir ete nie moet hy honger bly en eers tydens die volgende ete weer kos kry; as dit koud is en hy vergeet om iets warms aan te trek, moet hy baie koud kry.  Dus in plaas van stry en baklei en in ‘n magstryd vasgevang raak, kan die natuur hom leer.  Met hierdie tegniek leer die kind homself.  Hy leer verantwoordelikheid en ook om jou opinie te respekteer (want jy moet vooraf verduidelik wat die gevolg gaan wees).  Dit is belangrik om vas te byt en nie in te gee nie.

Die tegniek werk so: eers verduidelik jy aan die kind presies hoe dit gaan werk.  Maak dit duidelik dat jy die kind vertrou en dat jy seker is hy kan dit regkry.  Verduidelik wat die gevolg(e) sal wees van sy gedrag.  Staan uit die pad uit en wag vir die gevolge.  Wees simpatiek en sê dat jy regtig jammer is vir hom.  (Vermy die alewige “ek het jou mos gesê”.)  Bly ferm en laat die natuur hom leer, maar bly steeds liefdevol.

  1. Logiese gevolge

Hier is nie outomatiese natuurlike gevolge nie en die gevolge moet dus ingebou word deur die kind, die ouer of beide.  Dit is ‘n “as-dan”-strategie.  Die ouer moet rustig met die kind gesels en bespreek wat van hom verwag word.  Hy moet dit verstaan en dan moet verduidelik word wat die gevolg sal wees as hy nie die korrekte gedrag toon nie.  Daarna moet dit ferm maar kalm geïmplimenteer word.  Die kind leer hierdeur om die eerste maal te luister en daar is geen geskreeu, dreigemente of aanmanings nie.  Magstryde word ook vermy. Dit laat kinders verantwoordelikheid vat vir hulle gedrag.  Om ‘n kind heeltyd te herinner leer hom net om te vergeet want iemand anders sal mos onthou.  Goeie voorbeelde is wanneer hulle baklei in die kar.  Sê vooraf dat wanneer daar bakleiery is, sal daar van die pad afgetrek word totdat die bakleiry klaar is.  Wees dan maar geduldig en kom laat by jul bestemming as dit nodig is.  As die kind nooit betyds is vir aandete nie, bespreek dit rustig met hom dat jy een keer sal roep (vyf minute voor ete).  Die wat nie stiptelik daar is wanneer die ete begin nie, kry nie kos voor ontbyt nie.  As kinders dan, soos te wagte, jou probeer skuldig laat voel, sê net rustig waarop besluit is.  Dit is nie jy wat hom laat verhonger nie, hy kies self om nie te eet nie.  Sy skooltaak wat uitgestel word is nog ‘n voorbeeld:  Noem dat jy hom sal help as hy vroegtydig begin.  As hy nie vroegtydig begin nie, dan help jy nie.  As hy nie betyds is wanneer julle skool toe ry nie, moet hy stap.  (En as dit reën moet hy maar ‘n reënjas aantrek.)  Nog ‘n voorbeeld is die alewige deurmekaar kamer.  Begin ‘n Saterdagboks: verduidelik vir hulle elke dag as hulle skooltoe is sal alles wat rondlê – of dit nou sporttoerusting, skoolklere, of ‘n handboek is – in ‘n swartsak of ‘n boks geplaas word en weggesluit word.  Dit is nie jou skuld dat dit toegesluit is nie, dit is hy wat gekies het om dit op die grond neer te gooi.  Saterdag kan die boks weer uitgehaal word en als weer teruggegee word.  Die tegniek moet elke week toegepas word.  ‘n “Time-Out” is ook ‘n goeie voorbeeld van ‘n logiese gevolg: Die kind moet in ‘n vervelige plek wees waar jy hom kan dophou.  Begin met vyf minute en laat dit elke keer met ‘n verdere vyf minute verleng vir elke volgende oortreding.

Die stappe om te neem is dus om (1) ‘n vergadering te hou en te sê jy is moeg om die heeltyd te kla oor (die wangedrag) en dat jy seker is hulle hou ook nie daarvan dat jy so verskriklik kla daaroor nie.  Sê jy soek ‘n manier hoe hierdie take gedoen kan word sonder dat jy so kla.  Daar moet iets outomaties wees wat moet inskop, iets wat sal gebeur as die taak nie uitgevoer word nie.  Vra hulle dan of hulle enige idees het.  As dit ‘n goeie idee is, gebruik dit as ‘n gevolg.  Anders moet jy ‘n goeie idee gee.  Dan moet dit kalm en ferm toegepas word.  Moenie die kind weer herinner daaraan nie en moenie kwaad word of hom dreig nie.  Al wat jy sê is dat jy jammer is maar dat julle besluit het dat (die logiese gevolg) sal gebeur wanneer hy die wangedrag kies.  Dit is dus nie straf nie maar dissipline wat kinders leer om verantwoordelikheid te vat vir hul gedrag.

Slot

Die beste manier is om al hierdie tegnieke saam te gebruik.  Stap een sal wees om die probleemgedrag te identifiseer.  Dit moet baie spesifiek gedefinieer wees.  Stap twee is om voorsorg te tref: wys eers hoe die taak gedoen moet word, help om die oggendroetines te beplan, probeer uitvind hoekom die kind een of ander gedrag kies.  Doen daarna alles om die vier redes vir wangedrag aan te spreek.  Stap 3 volg indien al vier redes vir wangedrag aangespreek is en die wangedrag steeds nie verbeter het nie: verwyder belonings vir swak gedrag.  Stap vier is om positiewe gedrag te beloon en stap vyf is om die natuur sy gang te laat gaan – ‘n bietjie pyn nou is beter as om vir vyftien jaar lank met ‘n kind te raas.  Stap 6 is om logiese gevolge te implimenteer as geen ander tegnieke suksesvol was nie.  Baie van die stappe kan tegelyk geïmplimenteer word.

Belangrike punte om te onthou.

  1. Doen alles om jou woede te keer – tel tot tien of ‘n honderd of ‘n duisend. Stap uit die vertrek of uit die huis uit. Gesels met iemand oor jou woede.  Gaan toilet toe en drink drie glase water.  Doen enigiets, maar moet net nie kwaad raak nie.  Bespreek die situasie met iemand wat wysheid het en wat opgelei is om met hierdie situasies te werk.  As jy te kwaad is, sê vir die kind dat jy later met hom sal praat en dit uitsorteer.  Soek ‘n patroon in jou kwaadword, verander dit en werk daaraan.
  2. Moenie klein goedjies uit verband uitruk nie.
  3. Kyk wat jy kan leer uit jou gedrag uit.
  4. Gebruik “Ek” boodskappe – bly weg van “Jy”-boodskappe wanneer jy met jou kinders in gesprek tree.
  5. Ma en Pa moet altyd ‘n verenigde front wees in hierdie proses.

Bron: Hierdie artikel is gebasseer op inligting uit die boek, “Help! I’m a Parent” deur Dr. Bruce Narramore (1995).

Tags: , ,

About thatpsychologist

Clinical Psychologist in private practice in George and Mossel-Bay Kliniese Sielkundige in privaat praktyk op George en Mosselbaai.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: