Ek Vermoed my Geliefde Kom Uit ‘n Huis van Verslawing. Wat mag my Vermoedens Bevestig, Hoe Reageer ek Daarop en Wat Sou Heelword vir Hom of Haar Behels?
Daar is ‘n klompie gedragstekens wat dikwels, maar nie altyd nie, aanduidend kan wees van iemand wat in bogenoemde omstandighede grootgeword het:
- Hulle sukkel om pret te hê;
- Hulle soek konstant goedkeuring en bly lojaal selfs ten spyte van bewyse dat daardie mense dit nie verdien nie;
- Hulle is hiper-verantwoordelik of hiper-onverantwoordelik;
- Hulle raai wat normaal is en ervaar probleme in hegte verhoudings;
- Hulle sukkel om projekte te voltooi;
- Hulle jok selfs al sou dit net so maklik gewees het om die waarheid te praat;
- Hulle voel hulle is anders as ander;
- Hulle is impulsief en selfveroordeelend;
- Hulle oorreageer wanneer onbeheerbare dinge gebeur.
Vir jou is dit belangrik om te onthou dat hierdie gedrag in die kinderjare ontwikkel het om psigologies te oorleef. Skei dus in jou gedagtes die persoon van die gedrag. Moenie jou geliefde stormloop nie maar moet dit ook nie ignoreer nie. Skep eerder ‘n veilige ruimte om te praat. Dra die boodskap oor dat jy hom/haar graag in hul volheid sal wil leer ken en steeds onvoorwaardelik sal liefhê. Maar dink tog eers mooi: Die vrees is verwerping en indien jy teruggaan op jou woord, sal jy jou geliefde hertraumatiseer. Wees dan ook ‘n voorbeeld van hoe om pret te hê, vir jouself te lag, vooruit te beplan, projekte te voltooi ens. Gee ook aan jou geliefde eerlike – maar respekvol sensitiewe – terugvoer oor gedrag.
Die proses van heelword kan voorgestel word deur klein liggies wat aangeskakel word in ‘n donker kamer vol vrees. Slegs as die liggie nie in sy/haar gesig ontplof nie, sal daar moed wees vir ‘n volgende skakelaar. Uiteindelik kan jou geliefde begin om vanuit ‘n ander hoek na situasies te kyk en nuwe perspektief te kry. Indien daar met ander oë gekyk kan word en al die liggies aan is, kan verligting ervaar word. Heelword is dus nie om te vergeet nie maar om die insidente en die sin of lesse daarvan te onthou. Dit deaktiveer die gevoel en sodoende kan jou geliefde die self laat uitleef, in beheer voel en ophou met voorgee.