Skielik het my Lewensmaat in ‘n Oefen Fanatikus Ontaard
Wanneer ‘n huweliksmaat skielik oordrewe gesondheidsbewus begin raak en verskriklike oefening – hetsy ‘n sport, “gym”, draf, “spinning” of wat ook al – fanaties nagevolg word, kan ‘n mens hond se gedagtes kry en hardloop jou verbeelding soms met jou weg oor die redes wat agter hierdie aktiwiteit lê. Baie keer gaan dit nog gepaard met een of ander dieet ook.
Die mees algemene redes vir hierdie skielike obsessiewe gedrag is die volgende: menopouse, waar die persoon voel asof sy tyd uitloop en dit nou nodig is om alles in te haal wat keer op keer agterweë gelaat is; ‘n persoonlike inventaris is geneem en ‘n doelwit is gestel om gewig te verloor; ‘n doktersondersoek het ‘n mediese probleem aangedui wat met oefening verbeter kan word; ‘n buite-egtelike verhouding of belangstelling, waar die ander persoon se aandag en komplimente as motivering dien; of dalk net ‘n persoonlikheidstipe (byvoorbeeld obsessief-kompulsief) wat vir ‘n tyd fanaties sal oefen en dan weer fanaties sal slaplê.
Die ander een kan skaam, skuldig, hopeloos, bedreig en minderwaardig voel oor sy of haar eie onaktiwiteit of kan baie agterdogtig raak en oor duistere motiewe pieker. Sommiges kan self ook gemotiveer word om saam te oefen. Wanneer ‘n buite-egtelike verhouding ter sprake is, is die fokusarea nie die oefening nie maar die verhouding. Hoe om dit te hanteer word nie hier aangespreek nie aangesien dit in die minderheid van gevalle die rede agter fanatiese oefeninge is.
Indien die tyd wat een persoon daaraan spandeer oormatig is, behoort gekommunikeer te word oor balans in alle aspekte van die lewe en klem kan gelê word op ander gebiede wat nou afgeskeep word. Die onderliggende motivering kan bespreek word en saam aangepak word soos om die hele gesin dalk ‘n gesonder dieet te laat volg. Besluite kan geneem word oor spesifieke tye vir oefening. Die ideaal sou wees dat ‘n egpaar tyd maak om saam te oefen of ten minste beurte te maak daarvoor. Uiteindelik kan beide se fiksheidsvlakke verhoog en ‘n gesonde invloed op die huwelik en al sy fasette hê. Dit kan selfs in ‘n gesinsaksie verander waarby die kinders betrek kan word.