Sportsielkunde
- INLEIDING
Watter persentasie van ‘n sportman se sukses lê in sy brein en gedagtes?
Die mees belangrike aspek van sportprestasie is die psigiese deel maar ongelukkig spandeer die gemiddelde sportman die minste tyd hieraan.
Daar word dikwels baie tyd spandeer op fisieke voorbereiding en taktiek maar eers wanneer probleme ontstaan word ‘n sportsielkundige se hulp ingeroep.
Net soos dit nie moontlik is om stamina of krag in 3 dae voor ‘n wedstryd veel te verbeter nie, is dit moeilik om onmiddelik die sielkundige aspek drasties te verander. Maar anders as met fisieke oefening (waar daar eers ‘n afbraak voor die opwaartse kurwe is), kan gedagtes darem ‘n opwaartse kurwe van die begin af ontwikkel.
- DENKVAARDIGHEDE VAN SUKSESVOLLE DEELNEMERS
Die aanleer van denk-oefeninge neem so ses tot agt weke. Dit behels die evaluering en aanleer van die basiese vaardighede soos hieronder gelys en verskaf aan die sportman ‘n sak vol waardevolle gereedskap.
2.1 Houding
As mense ‘n voorbeeld van ‘n papiervliegtuig ontvang sal hulle een van 3 dinge doen: Hulle sal óf dit vou om dit net gedoen te kry, óf dit presies korrek vou óf dit probeer verbeter. Die laaste twee opsies is wat jy wil hê by ‘n deelnemer. Dit gaan dus meer oor hoe jy iets doen as oor die feit dat jy dit doen. Die hoe jy dit doen tydens elke oefening is wat tel en dit kan gesien word aan deelnemers se liggaamshouding.
By die VSA se Olimpiese hoofkantoor staan geskryf: “Not every 4 years, every day”.
2.2 Motivering
Drie tipes motivering bestaan, naamlik intrinsiek, ekstrinsiek en amotivering. Amotivering beteken daar is geen motivering van enige aard nie en natuurlik sal dit negatiewe gevolge hê.
Intrinsieke motivering is motivering wat vanuit die deelnemer self kom. Iemand wat deelneem omdat dit so lekker is. Hierdie is die beste vorm van motivering omdat niemand agter jou hoef te staan om jou aan te moedig nie.
Sekere ekstrinsieke vorms van motivering kan ook positief wees, soos wanneer die beste voorspeler van die span na die wedstryd ‘n eerbewys of erkenning kry terwyl die res van die spelers teenwoordig is. Ander tipes ekstrinsieke vorms van motivering soos wen, geld en vrees werk nie so goed nie.
2.3 Doelwitstelling
Dit behels die sistematiese beplanning oor die bereiking van spesifieke uitkomste binne ‘n bepaalde tydperk. Vir doelwitte om effektief te wees moet dit aan die volgende vereistes voldoen:
Dit moet spesifiek wees omdat vae terme tot vae uitkomste gaan lei. Om “elke weeksdag 50 opstote” te doen is byvoorbeeld ‘n beter doelwit as om te mik na “ek wil my arms versterk”.
‘n Doelwit moet meetbaar wees (soos in die bogenoemde voorbeeld) sodat jy presies kan vasstel of dit bereik is.
Doelwitte moet natuurlik moeilik wees maar tog bereikbaar. Die uitdaging daarvan is belangrik asook die satisfaksie om die moeilike taak te kon bemeester.
Alle doelwitte moet tydsgebonde wees sodat jy weet wanneer dit moet geskied en voor wanneer dit voltooi moet wees.
Skriftelike doelwitte het meer waarde as mondelingse doelwitte, omdat dit nie so maklik ontken kan word nie.
Doelwitte moet altyd in positiewe terme geformuleer word. Dit is beter om te sê jy wil vir die bal kyk tot jy hom tref, as om te sê jy wil nie jou kop oplig nie.
Korttermyndoelwitte se bereiking moet lei tot die bereik van langtermyndoelwitte.
2.4 Selfspraak
Elke deelnemer behoort kort en kragtige woorde of woordgroepe te hê wat kan help met bereiking van teikens, byvoorbeeld “fokus nou”. Hierdie woorde moet positief geformuleer wees en ‘n spesifieke stemtoon moet daaraan gekoppel word, selfs al is dit in die deelnemer se verbeelding. Hou in gedagtes dat die liefde vir iets meer motiveer as die vrees vir iets. So sal “voluit hardloop” meer motiveer as “moenie draf nie” omdat laasgenoemde angs en vrees skep wat die vrystelling van kortisol verhoog en weer makliker tot beserings aanleiding gee.
2.5 Visualisering
Gedagtes het minimale bewegings van spiere tot gevolg en daarom kan jy, deur jou in te dink asof jy iets doen, gedurig jou spiere leer. Maar dit help ook om jou ingesteldheid reg te kry vir belangrike deelnames en is veral belangrik die dag voor die wedstryd. Die visualisering moet so gedoen word dat jy al jou sintuie betrek asof jy nou besig is om deel te neem. Natuurlik moet mens ook hier visualiseer wat jy wil doen, nie wat jy nie wil doen nie.
2.6 Angsbeheer
Asemhalingstegnieke (diafragma-tipe) is waarskynlik die belangrikste manier om spanning te verminder. Vrae soos “wat is die ergste wat kan gebeur?” en opvolgvrae soos “is dit dan só erg?” help ook om dinge meer in perspektief te stel. Ook om te leer om op die nou te fokus eerder as die toekoms, is belangrik. Tuiswerkoefeninge speel hier ‘n groot rol.
2.7 Fokus / Konsentrasie
Die beste tipe fokus om aan te leer sal wissel van deelnemer tot deelnemer se individuele persoonlikhede asook die tipe sportsoort. Sommige sportlui moet eerder vir lang tye fokus terwyl ander vir korter periodes fokus en tussen-in aan ander dinge dink. Almal moet egter leer hoe om aan en af te skakel op stadiums. Die aanleer van spesifieke roetines is hier van kardinale belang.
2.8 Interpersoonlike Vaardighede
Hier gaan dit oor die aanleer of verbetering van selfhandhawing, besluitneming, luistervaardighede, leierseienskappe, mediaskakeling ens.
2.9 Emosiebestuur
Tegnieke om van woede, vrees, hartseer, skuldgevoel ens. ontslae te raak of te verwerk.
- PSIGOTERAPIE
Al die aspekte wat reeds genoem is kan deur ‘n sielkundige bevorder word aangesien hoogs effektiewe en interessante tegnieke beskikbaar is wat kan help met byvoorbeeld fokus, angsbeheer en visualisering. As iets diepers die deelnemer daarvan weerhou om sy beste lewer, byvoorbeeld negatiwiteit, perfeksionisme, verliese, selfbeeld, vrees vir verloor, ensovoorts, is dit nodig om ‘n sielkundige te sien wat in sportsielkunde belangstel. In sulke gevalle sal daar klinies gewerk word met elke deelnemer individueel deur ‘n kliniese sielkundige om die onderliggende oorsake uit te sorteer.
- DIE VIER FASETTE VAN SPORTPRESTASIE EN DIE EVALUERING DAARVAN
GENETIKA | VAARDIGHEDE | TAKTIEK | UITVOER | ||||
Lengte
Spiervolume Longkapasiteit Intellek Sig Refleksietyd Spoed Balans Soepelheid |
Vang
Skop Hardloop Swenk Duik Aangee Druk Spring Haak Gooi Val |
Afskop
Lynstaan Skrum Strafskop Plaasvervangers Verdediging |
Oefeninge
Skimteenstand Oefenwedstryde Wedstryd |
||||
Resultaat | Resultaat | Resultaat | Resultaat |
Kyk waar lê die beheer. Die meeste van bogenoemde is in die deelnemer se beheer. Tydens voorbereiding word gefokus op alles waaroor jy beheer kan uitoefen. Dit wat nie in jou beheer is nie, moet jy nie eers aan dink nie. Wen is nie in jou beheer nie!