Hoe Word ek Heel Indien ek Grootgeword het by Ouer(s) wat Verslaafdes was?
Die grootste stap is om te erken dat my ouers se verslawing wel ‘n impak op my gehad het. Kinders wat so opgegroei het, gebruik altyd ontkenning as verdedigingsmeganisme. Dit is dikwels makliker om eers net te erken dat daar ‘n moontlikheid bestaan dat dit tans ‘n effek op jou kan hê. Dan eers kan jy begin om sekere gedragspatrone te herken (soos genoem in ander artikels op hierdie webtuiste) asook die effek daarvan op die mense om jou. Raak bewus van watter rol jy as kind gespeel het en steeds herhaaldelik in verhoudings uitspeel.
Oudste kinders is geneig om die hero te wees. Prestasiegerigte, voorbeeldige, oorverantwoordelike klein grootmensies wat sukkel om pret te hê. Jongstes is gewoonlik gelukbringers wat almal moet laat lag. Hulle bly kind en sukkel om ernstig opgeneem te word. Tweede kinders word dikwels swartskape en moet die hele gesin se probleme namens hulle dra deur te rebelleer en al die konflik weg van die gesin te trek. Enigste kinders word weer die virtuoso en moet die ouers se totale ambisie najaag. Dan is daar ook die verlore kinders (dikwels die derde kind) wat geneig is om emosioneel (en dikwels fisies) te verdwyn van die toneel as probleme ontstaan.
Vind meer uit oor verslawing en die effek daarvan op gesinslede. Begin praat oor jou gevoelens en ervarings met persone wat jy kan vertrou soos familie, vriende, professionele persone en mense betrokke in 12-Stap programme. Vind uit of daar ACOA (adult children of alcoholic families) of ander ondersteuningsgroepe is en woon dit by. Geweldig baie inligting is op die internet beskikbaar. Lees meer oor ko-afhanklikheid. Gaan sien ‘n sielkundige – verkieslik een wat werk met verslawingsprobleme.
WAT KAN EK TE WAGTE WEES OP MY PAD VAN HEELWORD EN GENESING ?
Die deurwerk van die impak van jou ouers se gedrag tydens jou kinderjare (of tans) is ‘n rouproses, juis omdat dit jóú ook affekteer het. Van ontkenning beweeg jy deur aggressie (teenoor hulle, jouself, God, ens.) onderhandeling en depressie (oor als wat in die proses verlore geraak het) tot by aanvaarding en vergifnis. Moenie skrik of moed verloor wanneer jy op hierdie wipplank van emosies is nie. Gevoelens wat kan wissel van die vreugde wanneer verhoudings vlot verloop tot die diepste seer wanneer terugvalle na ou gedrag voorkom. Almal gaan hierdeur juis omdat dit normale reaksies vir ‘n abnormale situasie is.