PORNO-SKELM
Dit is gewoonlik die man. Miskien omdat mans meer gestimuleer word deur wat hulle sien (vroue meer deur wat hulle voel). Hy kom al later slaap, spandeer ure op die rekenaar – die kleurskerm weggedraai van die deur. Of dalk was dit die video of hoop tydskrifte at jy vind, diep weggebêre. Pornografie. En dalk meer as net kaal vrouens, goed wat jy nog nie eers verbeel het moontlik kan wees nie. Hoe lank hou dit al aan, die skelm loerdery? En hoekom?
Soos met enige verslawing het een keertjie se nuuskierigheid ‘n klomp keer geword. Soms is so ‘n persoon seksueel gefrustreed en getroud met iemand wat koud is (vir watter rede ook al) en pornografie word dan substituut. Dikwels het die “loerbroer” ‘n swak selfbeeld en is dit veiliger om seks met ‘n prentjie te hê.
Die gevolge vir die huwelik is negatief, selfs nog voor die waarheid ontbloot word. Om agteraf dinge te doen lei tot skuldgevoelens en om van skuld ontslae te raak, word na straf gesoek. So word die eggenoot dan dikwels in ‘n posisie gestel waar sy nie anders kan as om te dissiplineer nie. (dit kan natuurlik lei tot “regverdiging” van die gedrag). Uiteindelik wil die man uitgevang word en indirek die boodskap oordra dat daar fout is. Met die waarheid uit, ervaar die vrou eers ongeloof en dan vernedering, woede, hartseer en selfs walging. Dit kan gebeur dat ‘n permanente breuk ontstaan en dat vertroue vir altyd geskaad word, maar die positiewe is dat dit gewoonlik ‘n kommunikasieproses aan die gang kry. Dit is nodig dat die vrou haar frustrasies ontlaai en dan eers behoort ‘n plan uitgewerk te word om die gedrag te staak en om onderliggende of aanleidende faktore aan te spreek. Soos met ander verslawings behoort geheelonthouding (van pornografie) prioriteit te wees. Dit is selfs raadsaam om ‘n positiewe substituut te kry, soos daaglikse fisiese (nie noodwendig seksuele) kontak. Roetines soos om elke aand saam te gaan slaap, en gesamentlike godsdiens kan al klaar baie help. In hierdie proses is verstaan, belydenis en vergewing van kardinale belang en kan ‘n sterker verhouding hieruit vloei.
Verwysing: van der Walt, T. (2003). Porno-skelm. In Maartens, M. (Ed.). Die Groot Huweliksboek. (pp. 448-449). Pretoria: Lapa Uitgewers.